Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 19:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Israel het nog steeds nie ’n koning gehad nie. ’n Leviet het tydelik in ’n afgeleë deel in die heuwels van Efraim gebly. Hy het vir hom ’n byvrou uit Betlehem in Juda geneem.

2. Sy was nie getrou aan hom nie en het van hom af weggeloop. Sy het teruggegaan na haar pa se huis in Betlehem in Juda. Sy het vier maande lank daar gebly.

3. Haar man het toe ’n helper en ’n paar donkies gevat en agter haar aangegaan om haar te gaan ompraat om terug te kom. Sy het hom in haar pa se huis ingenooi. Haar pa was bly om hom te sien.

4. Sy skoonpa het hom oorreed om daar oor te bly. Hy het drie dae daar oornag, geëet en gedrink.

5. Op die vierde dag het hy vroeg opgestaan en reggemaak om te vertrek. Die meisie se pa het vir sy skoonseun gesê: “Eet eers ’n bietjie en daarna kan jy vertrek.”

6. Die twee het gaan sit en saam geëet en gedrink. Die meisie se pa sê toe vir die man: “Bly asseblief nog ’n nag oor en geniet dit hier.”

7. Die man was reg om te gaan, maar toe sy skoonpa so by hom aandring, het hy toegegee en nog ’n nag gebly.

8. Op die vyfde dag het hy vroeg opgestaan en klaargemaak om te gaan. Die meisie se pa sê toe: “Eet eers ’n bietjie, dan kan jy vanmiddag gaan.” Die twee het toe weer saam geëet.

9. Toe die man en sy byvrou en sy helper daardie middag gereed was om te vertrek, het die meisie se pa vir hom gesê: “Die skaduwees het al lank geword. Slaap eers vannag hier en dan kan jy môre vroeg opstaan vir die reis huis toe.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 19