Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 18:3-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Hulle het in Miga se huis die stem van die Leviet herken. Hulle het hom eenkant toe geroep en vir hom gevra: “Hoe het jy hier uitgekom? Wat maak jy hier? Wat hou jou hier?”

4. Hy vertel hulle toe dat hy ’n ooreenkoms het met Miga: “Hy het my gehuur. Ek is sy priester.”

5. Hulle het toe vir hom gesê: “Vind uit by God of ons reis voorspoedig gaan wees.”

6. “Wees gerus,” het die priester vir hulle gesê. “Die Here gaan saam met julle op julle reis.”

7. Die vyf mans het toe vertrek. Hulle het in Lajis aangekom. Hulle het gesien dat die inwoners, net soos die mense in Sidon, rustig daar bly. Hulle was rustig en vreedsaam. Hulle land was vrugbaar en hulle het niks kortgekom nie. Hulle was ver van Sidon af en het geen bondgenote naby gehad nie.

8. Hulle is toe terug na Sora en Estaol. Hulle stamgenote het hulle toe uitgevra: “Het julle iets gesien?”

9. Toe antwoord hulle: “Kom ons trek soontoe. Ons het die land gaan bekyk. Dit is baie mooi daar. Julle moenie nog sit en wag om die land te gaan inneem nie.

10. Julle sal afkom op mense wat houtgerus daar bly. God gee vir julle ’n oop en vrugbare stuk grond. Dit is ’n plek waar daar nie ’n gebrek aan enigiets is nie.”

11. Van die Daniete het 600 geoefende soldate toe uit Sora en Estaol vertrek.

Lees volledige hoofstuk Rigters 18