Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 15:13-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Hulle het hom belowe: “Ons sal jou nie doodmaak nie. Ons gaan jou net boei en aan die Filistyne uitlewer. Ons sal jou regtig nie doodmaak nie.” Hulle het hom toe met twee nuwe toue vasgemaak en hom weggeneem van die skeur af.

14. Toe hy in Legi aankom, het die Filistyne gejuig en op hom afgestorm. Die Gees van die Here het Simson sterk gemaak. Hy het die toue om sy arms gebreek asof dit garingdraadjies was wat wegbrand. Die toue waarmee hy geboei was, het van sy hande afgeval.

15. Hy het die vars kakebeen van ’n donkie van die grond af opgeraap en daarmee het hy 1 000 Filistyne doodgeslaan.

16. Hy sê toe: “Met ’n donkie se kakebeen het ek hulle opgestapel, met die kakebeen van ’n donkie 1 000 man doodgeslaan.”

17. Nadat hy dit gesê het, het hy die kakebeen weggesmyt. Hulle het die plek toe Kakebeenshoogte genoem.

18. Simson het toe baie dors geword. Hy het na die Here geroep: “U het vir u dienskneg hierdie groot oorwinning gegee. Moet ek nou van dors doodgaan en in die mag van heidene val?”

19. Toe het God water uit ’n holte by Legi laat borrel. Simson het gedrink en sy krag het teruggekom. Hy het die fontein in Legi “Roepersfontein” genoem. Dit is vandag nog sy naam.

20. In die twintig jaar wat die Filistyne oor hulle geheers het, was Simson die leier van Israel.

Lees volledige hoofstuk Rigters 15