Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 14:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Simson het afgegaan na Timna toe. Hy het daar ’n Filistynse meisie gesien.

2. Toe hy teruggaan, het hy sy ouers van haar vertel: “Ek het in Timna ’n Filistynse meisie gesien. Gaan kry haar dat ek met haar kan trou.”

3. Sy ouers vra toe vir hom: “Is daar nie iemand tussen die mense van jou stam of onder jou volksgenote met wie jy kan trou nie? Moet jy nou onder die heidense Filistyne ’n vrou vat?” Simson het vir sy pa gesê: “Kry haar vir my. Ek wil haar hê.”

4. Sy ouers het nie agtergekom dat dit eintlik van die Here af gekom het nie. Die Filistyne het op daardie stadium oor Israel geheers. God het na ’n geleentheid gesoek om iets aan die Filistyne te doen.

5. Toe Simson en sy ouers op pad was na Timna toe, het ’n jong leeu hom naby die wingerde van Timna aangeval.

6. Die Gees van die Here het in hom gekom. Hy het met sy kaal hande die leeu se kake uitmekaargeskeur, soos ’n mens ’n bokkie verskeur. Simson het niks daarvan vir sy ouers gesê nie.

7. Hy het in Timna gekom en met die vrou gaan praat. Hy het baie van haar gehou.

8. Toe hy later weer vir die troue terugkom na Timna toe, het hy afgedraai om na die leeu se karkas te gaan kyk. ’n Swerm bye was besig om daarin heuning te maak.

9. Hy het met sy hand van die heuning uitgehaal en langs die pad daaraan loop en eet. Hy het ook vir sy ouers daarvan gegee. Hulle het ook daarvan geëet, maar nie geweet dat hy die heuning uit die leeu se karkas gehaal het nie.

10. Sy pa is na die vrou se huis toe om reëlings te tref. Soos dit destyds die gewoonte was onder die jong mans, het Simson ’n onthaal gehou.

11. Toe hulle hom sien, het haar ouers30 Filistynse jong mans na die fees uitgenooi.

12. Simson het vir hulle gesê: “Ek wil julle graag ’n raaisel vra. As julle binne die sewe dae van die fees vir my kan sê wat dit beteken, sal ek vir julle 30 hemde en 30 stelle klere gee.

13. As julle dit nie kan oplos nie, gee julle vir my 30 hemde en 30 stelle klere.” Hulle stem toe in: “Goed, laat ons jou raaisel hoor.”

14. Simson sê toe vir hulle: “Uit een wat eet, kom daar iets om te eet. Uit een wat sterk is,kom daar iets wat soet is.”Teen die derde dag kon hulle nog nie sê wat dit beteken nie.

Lees volledige hoofstuk Rigters 14