Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 13:9-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. God het Manoag se gebed verhoor. God se engel het weer na die vrou toe gekom. Sy was op daardie oomblik in die veld. Haar man, Manoag, was toe nie by haar nie.

10. Sy hardloop toe gou terug na haar man toe en sê vir hom: “Die man wat nou die dag by my was, het nou weer gekom.”

11. Manoag het saam met sy vrou teruggehardloop. Toe hy by die man kom, vra hy vir hom: “Is jy die man wat met my vrou gepraat het?” Die man het geantwoord: “Dit was ek, ja.”

12. Manoag het vir hom gevra: “Wanneer jou belofte waar word, hoe moet die kind lewe en wat moet hy doen?”

13. Die Engel van die Here het vir Manoag geantwoord: “Sorg dat jou vrou alles doen wat Ek vir haar gesê het.

14. Sy mag nie iets eet wat van druiwe af kom nie. Sy mag nie wyn of sterk drank drink nie. Sy mag niks eet wat onrein is nie. Sy moet alles doen wat Ek vir haar gesê het.”

15. Toe sê Manoag vir die Engel van die Here: “Wag ’n bietjie hier. Ek wil vir jou ’n bokkie gaan gaarmaak om te eet.”

16. “Ek sal hier wag,” sê die Engel van die Here vir Manoag. “Maar Ek sal niks eet nie. Jy kan wel ’n brandoffer gereedmaak en dit vir die Here bring.” Manoag het nie agtergekom dat dit die Engel van die Here was nie.

17. Manoag vra toe vir die Engel: “Wie is jy? Wanneer dit gebeur soos jy gesê het, wil ons graag jou naam vereer.”

18. Hy het vir Manoag geantwoord: “Hoekom wil jy weet wie Ek is? Dit is te groot vir jou.”

19. Manoag het toe ’n bokkie gereed gekry en dit saam met ’n graanoffer op ’n klip vir die Here geoffer. Terwyl Manoag en sy vrou so staan en kyk, het iets wonderliks gebeur.

20. Toe die vlamme uit die altaar opskiet die lug in, het die Engel van die Here in die vlamme opgestyg. Toe Manoag en sy vrou dit sien, het hulle vooroor met hulle gesigte teen die grond neergeval.

21. Manoag en sy vrou kon die Engel nie meer sien nie. Manoag het toe besef dat dit eintlik die Engel van die Here was.

22. Toe sê Manoag vir sy vrou: “Ons gaan sekerlik nie bly leef nie. Ons het dan vir God gesien.”

23. Sy sê vir haar man: “As die Here ons wou doodmaak, sou Hy nie ons brandoffer en graanoffer aanvaar het nie. Hy sou ook nie aan ons verskyn het en ons al hierdie wonderlike dinge vertel het nie.”

24. Die vrou het ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Simson genoem. Die seun het grootgeword en die Here het hom geseën.

25. Die Gees van die Here het in Magane-Dan, tussen Sora en Estaol, in hom begin werk.

Lees volledige hoofstuk Rigters 13