Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:25-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

25. Hy het vir hulle ’n plek gewys. Die mense van Josef het almal in die stad doodgemaak. Hulle het egter hierdie man en sy familie laat vrykom.

26. Die man is toe na die gebied van die Hetiete toe. Hy het vir hom daar ’n stad gebou, wat hy Lus genoem het. Dit is vandag nog daardie stad se naam.

27. Die mense van Manasse het dit nie reggekry om die inwoners van Bet-San, Taänak, Dor, Jibleam en Megiddo met hulle omringende klein dorpies te verdryf nie. Die Kanaäniete was vasberade om daar te bly.

28. Toe die Israeliete later sterker geword het, het hulle wel die Kanaäniete verplig om vir hulle te werk. Hulle het dit egter nooit reggekry om hulle van daar af te verdryf nie.

29. Die Efraimiete kon dit ook nooit regkry om die Kanaäniete wat in Geser gewoon het, uit te dryf nie. Die Kanaäniete bly nog al die tyd tussen hulle in Geser.

30. Sebulon kon ook nie die Kanaäniete wat in Kitron en Nahalal gebly het daar wegkry nie. Die Kanaäniete bly nog al die tyd by Sebulon, maar moes dwangarbeid doen.

31. Aser het nooit die mense in Akko, Sidon, Aglab, Aksib, Gelba, Afek en Regob daar weggekry nie.

32. Eintlik was dit Aser wat tussen die Kanaäniete, die inwoners van die land, gaan bly het. Hulle het nie daarin geslaag om hulle te verdryf nie.

33. Naftali kon ook nooit die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat verslaan nie. Hulle het tussen die Kanaäniete gaan bly. Hulle het wel die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat gedwing om vir hulle te werk.

34. Die Amoriete het Dan na die heuwels toe verjaag. Hulle het die Daniete nie toegelaat om af te kom na die laagtes toe nie.

35. Die Amoriete was vasberade om in Har-Geres, Ajalon en Saälbim te bly woon. Toe die Josefstam egter later die oorhand kry, het hulle die Amoriete verplig om vir hulle dwangarbeid te doen.

36. Die grens van die Amoriete het by Skerpioenpas begin en oor Sela na boontoe geloop.

Lees volledige hoofstuk Rigters 1