Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 5:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Sê vir die Israeliete hulle moet enige persoon wat ’n aansteeklike velsiekte het, of wat ’n onreëlmatige afskeiding het, of besoedel geraak het deur aan ’n lyk te raak, uit die kamp uit wegstuur.

3. Dit geld vir sowel mans as vroue. Sit hierdie mense uit die kamp uit sodat die kamp waar Ek tussen julle bly nie deur hulle besoedel word nie.”

4. Die Israeliete het so gemaak en die persone weggestuur soos die Here gesê het.

5. Die Here sê toe vir Moses:

6. “Sê vir die Israeliete: Enige man of vrou wat ’n ander persoon verontreg, is ontrou aan die Here en is skuldig.

7. Hulle moet hulle oortreding bely. Hulle moet die persoon vergoed vir wat hulle aan hom gedoen het en twintig persent bysit wanneer hulle hom vergoed.

8. Indien die benadeelde persoon reeds dood is en daar is nie ander familie vir wie dit gegee kan word nie, behoort dit aan die Here. Dit moet vir die priester gegee word saam met ’n ram wat geslag kan word sodat die oortreder se sonde vergewe kan word.

9. Alles wat die Israeliete as ’n offer vir God na die priester toe bring, sal aan die priester behoort.

10. Elke ding wat iemand vir God bring, is sy geskenk aan God. Die priester mag dit egter ná die tyd vir homself hou.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 5