Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 4:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het toe vir Moses en Aäron gesê:

2. “Neem ook ’n sensus op van die Kehatiete onder die Leviete, volgens hulle afsonderlike familie- en stamgroepe.

3. Tel almal wat tussen 30 en 50 jaar oud is, wat in die tabernakel diens kan kom doen.

4. “Die Kehatiete sal in die tabernakel met die heel heiligste dinge werk.

5. Wanneer julle kamp afslaan om verder te trek, moet Aäron en sy seuns die afskortingsgordyn kom afhaal en oor die ark van die verbond trek.

6. Daar bo-oor moet hulle ’n laag gebreide vel trek en dít weer met ’n stuk blou materiaal toemaak. Dan moet hulle weer die drapale insteek.

7. “Hulle moet dan ’n blou doek bo-oor die tafel gooi waarop die brode gesit word. Hulle moet die borde, die lepels, die bakke, die drinkbekers en die brode bo-op die doek neersit.

8. Hulle moet dan daar bo-oor ’n rooi doek gooi en ’n stuk materiaal van gebreide bokvel bo-oor alles. Dan moet hulle die drapale weer deur die tafel se ringe steek.

9. “Hulle moet ’n donkerblou stuk materiaal vat en die kandelaar daarmee toegooi, saam met sy ligstaanders, die snuiters en die oliehouers wat daarvoor gebruik word.

10. Die kandelaar met sy toebehore moet dan ook in ’n gebreide vel toegedraai word. Dit moet alles op ’n draagbaar gesit word.

11. “Bo-oor die goue wierookaltaar moet hulle ’n blou doek gooi en dit weer met ’n stuk gebreide vel bo-oor toemaak. Hulle moet dan ook sy drapale weer deursteek.

12. Al die ander gereedskap wat by die heiligdom gebruik word, moet dan in ’n blou doek toegedraai word. Dit word weer in ’n vel gebreide leer toegedraai. Dit word dan ook op ’n draagbaar gesit.

13. “Krap die as van die altaar af en gooi ’n rooi doek daaroor.

14. Al die gereedskap wat by die altaar gebruik word, die vuurpanne, die hake, die grafies en die aspanne, dit alles moet bo-op die doek neergesit word en dit weer met ’n vel gebreide leer toegemaak word. Dan moet sy drapale weer deurgesteek word.

Lees volledige hoofstuk Numeri 4