Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 22:21-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Bileam het die volgende oggend opgestaan, sy donkie ingespan en saam met die amptenare van Moab gegaan.

22. Die Here het kwaad geword omdat hy gegaan het. Die Here het ’n engel gestuur om hom langs die pad voor te keer. Bileam het op sy donkie gery. Daar was twee bediendes saam met hom.

23. Bileam se donkie het die engel van die Here voor hom in die pad sien staan met ’n swaard in sy hand. Die donkie het uit die pad weggedraai en deur die veld gaan loop. Bileam het die donkie geslaan om hom na die pad toe terug te dwing.

24. Die engel het toe in ’n smal opening tussen twee wingerdmure gaan staan.

25. Toe die donkie die engel van die Here sien staan, het hy teenaan die muur probeer verbyskuur. Bileam se voet is teen die muur vasgedruk. Bileam het hom toe weer geslaan.

26. Die engel van die Here het toe op ’n ander plek gaan staan waar dit so nou is dat daar nie plek is om links of regs verby te gaan nie.

27. Toe die donkie weer die engel van die Here sien staan, het dit onder Bileam gaan lê. Bileam was woedend. Hy het die donkie met ’n stok geslaan.

28. Die Here het toe die donkie laat praat. “Wat het ek aan jou gedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het?” vra die donkie vir Bileam.

29. Bileam sê vir die donkie: “Jy maak my belaglik. As ek ’n swaard gehad het, het ek jou nou doodgemaak.”

30. “Ek is dan jou donkie waarop jy nog altyd gery het,” sê die donkie. “Is dit hoe ek altyd met jou maak?” “Nee,” sê Bileam.

31. Toe het die Here Bileam se oë laat oopgaan. Hy sien toe die engel van die Here in die pad staan met die swaard in sy hand. Hy het toe vooroor op die grond geval.

Lees volledige hoofstuk Numeri 22