Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 21:22-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. “Laat ons deur jou land trek. Ons sal nie afdraai na die veld, of na jou wingerde toe nie. Ons sal nie water uit jou putte drink nie. Ons sal reguit hou met die Hoofweg van die Konings totdat ons deur jou gebied is.”

23. Sihon wou Israel egter nie toelaat om deur sy gebied te trek nie. Hy het sy hele volk bymekaargekry en uitgetrek om Israel in die woestyn aan te val. Hy het by Jahas aangekom en daar teen Israel geveg.

24. Die Israeliete het hom egter in die geveg verslaan. Hulle het sy land by hom afgevat vanaf die Arnonrivier tot by die Jabbokspruit teenaan die Ammoniete. Die Ammoniete het hulle gebied verdedig.

25. Die Israeliete het al die stede van die Amoriete ingeneem. Hulle het in Gesbon en die dorpe rondom gaan woon.

26. Gesbon was die hoofstad van koning Sihon van die Amoriete. Hy het met ’n vorige koning van Moab oorlog gemaak en sy hele land tot by die Arnonrivier van hom afgeneem.

27. Dis hoekom hulle oor hom gedig het: “Kom na Gesbonen herbou die stad. Herstel die stad van Sihon.

28. ’n Vuur het uit Gesbon gegaan, ’n vlam uit die stad van Sihon. Dit het Ar in Moab verteer en dié wat in beheer is van die Arnon.

29. Dis verby met jou Moab. Jy sal tot niet gaan, volk van Kemos. Hy gee sy seuns prys as vlugtelinge. Sy dogters word gevangenesvan Sihon, die koning van die Amoriete.

30. Ons het op hulle losgetrek. Van Gesbon tot by Dibon is hy verwoes. Ons het hulle uitgevee tot by Nofag en Medeba.”

31. Die Israeliete het toe in die gebied van die Amoriete gaan woon.

32. Moses het mense uitgestuur om Jaser te gaan verken. Hulle het dit saam met sy omringende dorpies ingeneem en die Amoriete verjaag wat daar gebly het.

33. Hulle het omgedraai en in die rigting van Basan begin marsjeer. Og, die koning van Basan, het teen hulle uitgetrek om by Edreï teen hulle te veg.

34. Die Here het toe vir Moses gesê: “Moenie vir hom bang wees nie. Ek gee vir jou die oorwinning oor hom en sy volk. Ek gee sy land vir jou. Jy sal met hom maak soos jy met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Gesbon gebly het, gemaak het.”

35. Hulle het toe vir hom en sy seuns en sy volk verslaan totdat daar nie een oorgebly het nie. Hulle het sy land oorgeneem.

Lees volledige hoofstuk Numeri 21