Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 21:17-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Daar het Israel hierdie lied gesing: “Borrel op, put! Ons sal daaroor sing.

18. Put wat deur vorste oopgegrawe is. Wat die leiers van die volk oopgemaak het, met septers en staf.” Hulle het toe uit die woestyn na Mattana toe vertrek.

19. Van daar is hulle na Nagaliël en toe na Bamot toe.

20. Daarvandaan het hulle vertrek na die vallei in die gebied van Moab onder die piek van Pisga, wat op die droë gebied van Jesimon afkyk.

21. Die Israeliete het boodskappers na Sihon, die koning van die Amoriete, gestuur:

22. “Laat ons deur jou land trek. Ons sal nie afdraai na die veld, of na jou wingerde toe nie. Ons sal nie water uit jou putte drink nie. Ons sal reguit hou met die Hoofweg van die Konings totdat ons deur jou gebied is.”

23. Sihon wou Israel egter nie toelaat om deur sy gebied te trek nie. Hy het sy hele volk bymekaargekry en uitgetrek om Israel in die woestyn aan te val. Hy het by Jahas aangekom en daar teen Israel geveg.

24. Die Israeliete het hom egter in die geveg verslaan. Hulle het sy land by hom afgevat vanaf die Arnonrivier tot by die Jabbokspruit teenaan die Ammoniete. Die Ammoniete het hulle gebied verdedig.

25. Die Israeliete het al die stede van die Amoriete ingeneem. Hulle het in Gesbon en die dorpe rondom gaan woon.

26. Gesbon was die hoofstad van koning Sihon van die Amoriete. Hy het met ’n vorige koning van Moab oorlog gemaak en sy hele land tot by die Arnonrivier van hom afgeneem.

27. Dis hoekom hulle oor hom gedig het: “Kom na Gesbonen herbou die stad. Herstel die stad van Sihon.

28. ’n Vuur het uit Gesbon gegaan, ’n vlam uit die stad van Sihon. Dit het Ar in Moab verteer en dié wat in beheer is van die Arnon.

29. Dis verby met jou Moab. Jy sal tot niet gaan, volk van Kemos. Hy gee sy seuns prys as vlugtelinge. Sy dogters word gevangenesvan Sihon, die koning van die Amoriete.

Lees volledige hoofstuk Numeri 21