Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 18:14-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Enigiets of iemand wat spesiaal aan die Here afgestaan is, word ook joune.

15. Elkeen, mens of bees, wat eerste gebore word en wat aan die Here afgestaan word, is ook joune. Onthou dat elke mens wat eerste gebore word, losgekoop moet word. Onrein diere se eersteling moet ook losgekoop word.

16. Koop hulle los wanneer hulle ’n maand oud is. Die loskoopprys is 50 gram silwer. Dit is volgens die standaardgewig van die heiligdom.

17. Jy mag nie die eersgeborene van ’n bees, ’n skaap of ’n bok loskoop nie. Hulle behoort aan die Here. Hulle bloed moet teen die altaar gesprinkel word en hulle vet as ’n vuuroffer gebring word. Dit is aangenaam vir die Here.

18. Jy kan egter hulle vleis vat. Dit is joune, net soos die borsstuk en die regterboud van die offer wat na die Here toe uitgehou word, ook aan jou behoort.

19. Al hierdie heilige offers wat die Israeliete vir die Here bring, gee Ek vir jou en jou kinders. Dit sal altyd julle deel wees. Dit is ’n onverbreekbare ooreenkoms tussen die Here en jou en jou nageslag.”

20. Die Here het vir Aäron gesê: “Jy sal nie grond kry in julle land nie. Jy sal nie saam met jou volk eiendom besit nie. Ek is jou erfporsie en jou aandeel in Israel.

21. Vir die werk wat hulle by die tabernakel doen, vergoed Ek die stam van Levi met al die tiendes wat Israel bring.

22. “Die Israeliete mag van nou af nie meer by die tabernakel kom nie. Dit sal as ’n oortreding beskou word wat lei tot die dood.

23. Die Leviete moet by die tabernakel werk. Hulle dra die verantwoordelikheid daarvoor. Dit is ’n onveranderlike wet. Hulle sal egter nooit enige grond tussen die Israeliete besit nie.

24. Ek gee die tiendes wat die Israeliete vir die Here offer aan die Leviete as hulle deel. Dit is waarom Ek gesê het dat die Leviete nie ’n erfporsie onder die Israeliete kry nie.”

25. Die Here het vir Moses gesê:

26. “Sê vir die Leviete: Wanneer Ek vir julle die tiendes wat die Israeliete vir My offer, as erfdeel vir julle gee, moet hulle weer ’n tiende daarvan vir die Here gee. Dit is dus ’n tiende van ’n tiende.

27. Dit sal beskou word asof dit julle graan van die dorsvloer af en julle eerste wyn van die wynpers af is.

Lees volledige hoofstuk Numeri 18