Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 16:25-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

25. Moses het toe opgestaan en na Datan en Abiram toe gegaan. Die leiers het agter hom aan getou.

26. Hy het met die mense gepraat en vir hulle gesê: “Staan terug van hierdie slegte mans se tente af! Moet aan niks vat wat aan hulle behoort nie sodat julle nie ook saam vernietig word deur al hulle oortredings nie.”

27. Hulle het toe van die tente van Korag, Datan en Abiram padgegee. Datan en Abiram het uitgekom en saam met hulle vroue, seuns en kindertjies by die ingang van hulle tente gaan staan.

28. Toe het Moses gesê: “Julle sal hieraan weet dat ek nie uit my eie optree nie, maar dat die Here my gestuur het om hierdie dinge te doen.

29. As hierdie mense op ’n natuurlike manier doodgaan, dan het die Here my nie gestuur nie.

30. As die Here egter iets eienaardigs laat gebeur en die grond skeur oop en sluk hulle met al hulle besittings in en hulle sink lewendig in die grond weg, dan sal julle weet dat hierdie mans die Here getart het.”

31. Hy het dit skaars gesê of die aarde het onder hulle oopgeskeur.

32. Die aarde het oopgegaan en hulle en hulle huisgesinne ingesluk. Dit het ook Korag en sy trawante en alles wat hulle besit het, ingesluk.

33. Hulle het met alles wat hulle besit net so lewendig in die grond verdwyn. Die grond het bo hulle toegegaan. Hulle het heeltemal uit die gemeenskap verdwyn.

34. Toe hulle hoor hoe hierdie mense gil, het al die Israeliete wat rondom hulle gestaan het, op die vlug geslaan. Hulle was bang die grond gaan hulle ook insluk.

35. Vuur het toe van die Here af gekom en dit het die 250 mans verteer wat nadergekom het om die wierook te brand.

Lees volledige hoofstuk Numeri 16