Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 14:31-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

31. “Julle het gesê dat julle kinders oorlogsbuit sal word. Ek sal húlle egter in die land laat kom en hulle sal die land beleef wat julle versmaai het.

32. Maar julle lyke sal hierdie hele woestyn vol lê.

33. Julle kinders sal die prys betaal vir julle ontrouheid. Hulle sal soos herders 40 jaar lank in die woestyn rondswerf totdat julle almal dood in die woestyn lê.

34. Vir elkeen van die 40 dae wat julle die land verken het, sal julle vir julle oortreding betaal. Julle sal 40 jaar in die woestyn bly. Julle sal leer wat dit is om My as vyand te hê.

35. Ek, die Here, het dit gesê! Ek sal dit met elkeen laat gebeur wat teen my saamgesweer het. In hierdie selfde woestyn sal elkeen van hulle doodgaan!”

36. Die tien mans wat Moses uitgestuur het om die land te gaan verken en wat teruggekom het en die gemeenskap teen God opgemaak het met die slegte gerug wat hulle oor die land versprei het,

37. het gesterf vanweë ’n plaag wat die Here gestuur het.

38. Van die mans wat gegaan het om die land te verken, het net Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, oorleef.

39. Toe Moses vir die Israeliete vertel wat die Here alles gesê het, was die volk baie hartseer.

40. Hulle het die volgende oggend vroeg opgestaan en begin optrek na die heuwelgebied toe. Hulle het gesê: “Laat ons optrek na die land wat die Here vir ons beloof het. Ons het ’n fout gemaak.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 14