Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 14:19-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. “Vergeef tog nou hierdie volk se sonde soos U in u groot liefde hulle verdra het vandat hulle uit Egipte uit weg is tot nou toe.”

20. Die Here sê toe: “Ek sal hulle vergeef soos jy gevra het.

21. Maar so seker as wat Ek leef en die aarde vol is van die Here se groot mag,

22. nie een van hierdie mans wat gesien het hoe groot Ek is en watter wondertekens Ek in Egipte en die woestyn gedoen het en wat My herhaaldelik getoets het deur nie na My te luister nie,

23. nie een van hulle wat My verag het, sal in die land kom wat Ek aan hulle voorouers beloof het nie.

24. My dienaar Kaleb het egter ’n ander gesindheid teenoor My gewys. Hy het by My bly staan. Ek sal hom in die land laat kom wat hy gaan verken het. Sy nageslag sal die land besit.

25. Draai weg van die vlakte waar die Amalekiete en Kanaäniete bly. Gaan terug op die pad wat na die Rietsee toe loop.”

26. Die Here het toe vir Moses en Aäron gesê:

27. “Hoe lank gaan hierdie slegte gemeenskap bly kla oor My? Ek het gehoor wat die Israeliete oor My sê.

28. Sê vir hulle: ‘So waar as Ek leef, sê die Here, Ek gaan met julle alles laat gebeur waarvan julle My verdink het.

29. Julle lyke sal hier in die woestyn lê. Nie een van julle bo twintig jaar oud wat in die sensus getel is en wat oor my gekla het,

30. sal in die land kom wat Ek beloof het dat julle daarin sal woon nie. Net Kaleb, seun van Jefunne, en Josua, seun van Nun, sal ingaan.

31. “Julle het gesê dat julle kinders oorlogsbuit sal word. Ek sal húlle egter in die land laat kom en hulle sal die land beleef wat julle versmaai het.

Lees volledige hoofstuk Numeri 14