Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 14:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die gemeenskap het toe begin kla. Die volk het deur die nag gesit en huil.

2. Al die Israeliete het by Moses en Aäron kom kla. Hulle het gesê: “As ons tog maar liewer in Egipte gesterf het, of selfs hier in die woestyn!

3. Hoekom het die Here ons na hierdie land toe laat kom om hier met die swaard doodgemaak te word? Ons vroue en ons dogters gaan nog oorlogsbuit word. Is dit nie beter dat ons maar liewer na Egipte toe teruggaan nie?”

4. Hulle het toe onder mekaar gekonkel: “Kom ons kies ’n leier en ons gaan terug na Egipte toe.”

5. Moses en Aäron het voor die gemeenskap van die Israeliete neergeval.

6. Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, wat saam die land gaan verken het, het hulle klere geskeur.

7. Hulle het vir die gemeenskap van die Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is ’n besondere mooi land.

8. As die Here ons liefhet, sal Hy ons in die land laat kom en dit vir ons gee. Dit is ’n baie vrugbare land.

9. Moenie teen die Here in opstand kom nie! Moenie bang wees vir die mense van die land nie. Hulle is ons slagoffers. Hulle het geen beskerming nie. Die Here is met ons. Moenie bang wees nie!”

10. Die gemeenskap het egter gedreig om hulle met klippe dood te gooi. Die Israeliete het toe bewus geword van die Here se magtige teenwoordigheid by die tabernakel.

11. Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank gaan hierdie volk nog aanhou om My te minag? Hoe lank gaan hulle bly weier om op My te vertrou, selfs al het Ek al die wonders tussen hulle laat gebeur?

Lees volledige hoofstuk Numeri 14