Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 11:5-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Ons onthou nog hoe ons net soveel vis kon eet soos ons wou in Egipte. Daar was komkommers en waatlemoene en prei en uie en knoffel.

6. Maar nou stik ons aan die manna waarteen ons elke dag moet vaskyk!”

7. Die manna was soos koljandersaad. Dit het ’n vaal kleur gehad.

8. Die volk het uitgegaan en dit van die grond af opgetel. Hulle het dit dan tussen klippe gemaal of in ’n vysel stukkend gestamp. Daarna het hulle dit in ’n pot gekook en dan daarvan plaatkoeke gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak.

9. Die manna het saam met die dou gedurende die nag geval.

10. Moses het gehoor hoe die stamme van die volk by hulle tente se openinge staan en mor. Die Here het baie kwaad geword. Dit was vir Moses ’n baie verkeerde ding.

11. Moses vra toe vir die Here: “Waarom het U hierdie moeilikheid oor u dienaar, gebring? Waarom het U my met hierdie volk opgesaal?

12. Is ek hierdie volk se pa? Het ek hulle gemaak dat U vir my sê: ‘Dra hulle in jou arms soos ’n oppasser ’n suigeling ronddra. Vat hulle na die land wat Ek vir hulle voorsate beloof het.’

13. Waar gaan ek vleis kry vir hierdie hele volk? Hulle kerm by my en hulle vra: ‘Gee vir ons vleis om te eet.’

14. “Ek kan nie alleen hierdie hele volk versorg nie. Hulle is te veel vir my.

15. As U dit van my verwag, maak my dan asseblief maar liewer dood as wat ek na hierdie ellende moet sit en kyk.”

16. Die Here sê toe vir Moses: “Maak uit die ouer mans van Israel vir my 70 mans bymekaar van wie jy weet dat hulle die oudstes en die leiers is. Vat hulle saam na die tabernakel toe en wag daar saam met hulle.

17. Ek sal afkom en met jou kom praat. Ek sal my Gees wat in jou woon ook in hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou verantwoordelik wees vir die volk. Jy sal dit nie meer alleen hoef te dra nie.

Lees volledige hoofstuk Numeri 11