Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 11:11-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Moses vra toe vir die Here: “Waarom het U hierdie moeilikheid oor u dienaar, gebring? Waarom het U my met hierdie volk opgesaal?

12. Is ek hierdie volk se pa? Het ek hulle gemaak dat U vir my sê: ‘Dra hulle in jou arms soos ’n oppasser ’n suigeling ronddra. Vat hulle na die land wat Ek vir hulle voorsate beloof het.’

13. Waar gaan ek vleis kry vir hierdie hele volk? Hulle kerm by my en hulle vra: ‘Gee vir ons vleis om te eet.’

14. “Ek kan nie alleen hierdie hele volk versorg nie. Hulle is te veel vir my.

15. As U dit van my verwag, maak my dan asseblief maar liewer dood as wat ek na hierdie ellende moet sit en kyk.”

16. Die Here sê toe vir Moses: “Maak uit die ouer mans van Israel vir my 70 mans bymekaar van wie jy weet dat hulle die oudstes en die leiers is. Vat hulle saam na die tabernakel toe en wag daar saam met hulle.

17. Ek sal afkom en met jou kom praat. Ek sal my Gees wat in jou woon ook in hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou verantwoordelik wees vir die volk. Jy sal dit nie meer alleen hoef te dra nie.

18. “Sê vir die volk: Heilig julleself vir môre. Julle sal dan vleis kry om te eet. Die Here het gehoor hoe julle kerm: Waar sal ons vleis kry om te eet? Ons was beter af in Egipte! Die Here sal dan vir julle vleis gee om te eet.

19. Julle sal nie net vir een dag vleis hê om te eet nie, ook nie net vir twee of vir vyf of vir tien of vir selfs twintig dae nie.

20. Julle sal elke dag vir ’n hele maand lank vleis eet totdat dit by julle ore uitkom en julle daarvan begin naar word. Julle het die Here, wat tussen julle woon, verwerp, want julle het by Hom gekla: ‘Waarom moes ons uit Egipte weggaan?’”

21. Moses het die Here geantwoord: “Hier onder ons is daar 600 000 mans wat kan veg. En dan sê U nog: ‘Ek sal vir hulle vir ’n maand lank vleis gee om te eet.’

Lees volledige hoofstuk Numeri 11