Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 6:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Sanballat, Tobija, die Arabier Gesem en die ander vyande het gehoor dat ek die bouwerk aan die muur voltooi het. Daar was geen openinge meer in die muur nie. Hulle moes wel nog die deure in die poorte hang.

2. Toe stuur Sanballat en Gesem vir my ’n boodskap met die versoek dat ek hulle in een van die dorpies in die Onolaagte moes ontmoet. Ek het besef dat hulle beplan het om my kwaad aan te doen.

3. Ek het toe vir hulle ’n boodskap teruggestuur: “Ek is met ’n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie.”

4. Hulle het die boodskap vier keer vir my gestuur en elke keer het ek vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur.

5. Die vyfde keer het Sanballat sy assistent na my gestuur met ’n oop brief in sy hand.

6. In die brief het daar gestaan: “Gesem het my vertel dat die mense onder mekaar praat en sê dat jy en die Jode ’n opstand beplan. Dit is hoekom julle die muur bou. Volgens die gerugte het jy planne om hulle koning te word.

7. Hy vertel ook dat jy profete aangestel het om in Jerusalem oor jou te profeteer. Hulle sê glo: ‘Daar is nou ’n koning in Juda!’“Die koning sal sonder enige twyfel van hierdie gerugte te hore kom. My voorstel is dat jy liewer kom en die saak met my kom bespreek.”

Lees volledige hoofstuk Nehemia 6