Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 4:15-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Toe ons vyande hoor dat ons van hulle planne weet en dat God dit in die wiele gery het, kon elkeen van ons weer na ons werk aan die muur teruggaan.

16. Maar van toe af kon net die helfte van my mense met die werk aangaan. Die ander het met harnasse aan waggestaan, gewapen met spiese, skilde en boë. Die offisiere het agter die mense van Juda posisie ingeneem

17. terwyl hulle aan die muur gebou het. Die werkers wat die boumateriaal aangedra het, het hulle werk met net een hand gedoen. In die ander hand was ’n wapen.

18. Al die bouers het gewerk met ’n swaard aan hulle sye vasgemaak. Die trompetblaser het by my gebly om alarm te maak.

19. Ek het vir die leiers, amptenare en die res van die volk verduidelik: “Kyk, ons werk oor ’n groot gebied en ons is ver van mekaar af al langs die muur versprei.

20. As julle die trompet hoor blaas, kom vinnig by daardie punt bymekaar. Ons God sal vir ons veg!”

21. Ons het van vroeg tot laat gewerk, van sonsopkoms tot sonsondergang. Een helfte van die mense was altyd op wag, gewapen met spiese.

22. Ek het ook almal wat buite die mure gebly het, beveel om in Jerusalem te kom slaap. Op dié manier kon hulle en hulle slawe in die nag help wagstaan en bedags met die werk help.

23. In dié tyd het niemand van ons ooit ons klere uitgetrek nie – nie ek of my familie of my diensknegte of die wagte wat by my was nie. Ons het ons wapens te alle tye saam met ons gedra, selfs wanneer ons water gaan drink het.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 4