Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 13:8-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Dit het my baie kwaad gemaak. Ek het al Tobija se besittings uit die vertrek uitgegooi.

9. Toe het ek opdrag gegee dat hulle die vertrekke moes reinig. Ek het die gereedskap van God se tempel, die graanoffers en die wierook daarheen teruggebring.

10. Ek het ook ontdek dat die Leviete nie hulle deel van die graanoffers gekry het nie. Hulle en die sangers wat diens gedoen het, het daarom na hulle eie grond toe teruggegaan.

11. Ek het onmiddellik die leiers voor stok gekry en gevra: “Waarom het julle die tempel van God verwaarloos?” Ek het ook die Leviete laat terugkom om hulle pligte te hervat.

12. Daarna het die mense van Juda weer hulle tiendes van koring, nuwe wyn en olyfolie na die stoorkamers by die tempel begin bring.

13. Ek het die priester Selemja, die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja in beheer van die stoorkamers geplaas. Ek het ook Ganan die seun van Sakkur en kleinkind van Mattanja aangestel om hulle te help. Hulle was baie betroubaar en moes toesien dat hulle medewerkers hulle regmatige dele ontvang.

14. Onthou wat ek gedoen het, my God. Moenie al die mooi dinge wat ek getrou vir u tempel gedoen het, vergeet nie.

15. In daardie tyd het ek gesien hoe party van Juda se mense op die Sabbat wyn pars. Hulle het ook bondels koringgerwe aangedra en op donkies gelaai. Meer nog, hulle het wyn, druiwe, vye en allerlei ander produkte gebring om in Jerusalem op die Sabbat te verkoop. Ek het hulle gewaarsku om nie op dié dag kos te verkoop nie.

16. Daar was ook mense wat van Tirus afkomstig was wat vis en ander handelsprodukte gebring het. Hulle het dit op die Sabbat aan die mense van Juda verkoop, en dit in Jerusalem!

17. Ek het die leiers van Juda aangespreek en vir hulle gesê: “Hoe kan julle so verkeerd optree? Julle misbruik die Sabbatdag!

18. Is dit nie genoeg dat julle voorouers presies net so opgetree het nie? Dit is die rede hoekom ons God al hierdie rampe oor hierdie stad gebring het. Julle veroorsaak nog net meer woede teen die mense van Israel deur toe te laat dat hulle die Sabbat so misbruik.”

19. Ek het opdrag gegee dat hulle die ingange van Jerusalem op Vrydagaande teen sononder moes sluit. Eers as die Sabbat verby is, mag hulle dit weer oopmaak. Ek het verder van die mense in my diens gestuur om die hekke op te pas sodat niemand enige handelsware op die Sabbat inbring nie.

20. Dit het een of twee keer gebeur dat die handelaars wat met allerhande soorte ware handel dryf, buite Jerusalem moes oornag.

21. Maar ek het hulle gewaarsku en gesê: “Hoekom oornag julle hier buite die muur? As julle dit weer doen, sal ek julle arresteer!” Dit was die laaste keer dat hulle op die Sabbat gekom het.

22. Ek het die Leviete toe beveel om hulle te reinig en om by die ingange wag te staan sodat niemand die Sabbatdag oneervol sal vier nie. Onthou asseblief ook hierdie optrede van my, my God! Wees goed vir my omdat u liefde groot is en U niemand ooit in die steek laat nie.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 13