Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 8:23-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Moses het die ram geslag en van die bloed geneem en dit aan die oorlel van Aäron se regteroor, sy regterduim en regtergroottoon gesmeer.

24. Hy het toe ook Aäron se seuns laat naderkom en van die bloed ook aan hulle regteroorlelle, regterduime en regtergroottone gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die kante van die altaar gesprinkel.

25. Toe het hy die vet geneem, die vet van die stert, die vet aan die binnegoed, die punt van die lewer, die twee niere met hulle vet en ook die regterboud.

26. Hy het toe ook ’n ongesuurde brood, ’n roosterkoek van ongesuurde brood wat in olyfolie gedoop is en ’n dun broodjie wat met olyfolie gesmeer was bo-op die vet en die regterboud gesit. Al die brood is geneem uit die mandjie met ongesuurde brood wat in die teenwoordigheid van die Here gestaan het.

27. Hy het dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle aangesê om dit vir die Here aan te bied deur dit na Hom uit te steek.

28. Moses het toe die offers by hulle teruggevat en dit op die altaar bo-op die brandoffer as ’n wydingsoffer verbrand. Dit was ’n vuuroffer vir die Here en baie aangenaam vir Hom.

29. Moses het toe die bors geneem en dit opgelig voor die Here in sy teenwoordigheid. Dit was Moses se deel van die ram vir die priesterwyding, net soos die Here hom beveel het.

30. Daarna het Moses van die salfolie en van die bloed op die altaar geneem en dit op Aäron en sy klere gesprinkel en ook oor sy seuns en hulle klere. Op dié manier het hy Aäron en sy seuns en hulle klere gewy.

31. Toe het Moses vir Aäron en sy seuns gesê: “Kook die res van die vleis by die ingang van die tent van ontmoeting en eet dit daar saam met die brood in die mandjie wat vir die wyding van die priesters gebruik is, net soos ek jou beveel.

32. Enige vleis of brood wat oorbly, moet verbrand word.

33. Vir sewe dae lank mag julle nie die ingang van die tent van ontmoeting verlaat nie, want dit is hoe lank dit sal neem om die wydingseremonie te voltooi.

34. Wat vandag gedoen is, is die bevel van die Here sodat daar versoening vir julle kan wees.

35. Onthou, julle moet by die ingang van die tent van ontmoeting bly vir sewe dae en sewe nagte en doen wat die Here vra. As julle dit nie doen nie, sal julle sterf. Dit is wat die Here sê.”

36. Aäron en sy seuns het alles gedoen wat die Here deur Moses beveel het.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 8