Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 4:25-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

25. Die priester sal dan sy vinger in die bloed van die sonde-offer steek, dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res teen die onderkant van die altaar uitgooi.

26. Hy moet al die vet van die bok op die altaar verbrand, net soos wat met die maaltydoffer gemaak word. Op dié manier sal die priester vir die sonde van die leier versoening doen en sal hy vergewe word.

27. “As enige burger van Israel iets doen wat deur die Here verbied word, is hy skuldig selfs al sondig hy onopsetlik.

28. As hulle bewus word van hulle sonde, moet hulle ’n bokooi sonder gebrek as ’n offer bring. Die bok sal dan vir hulle sonde geoffer word.

29. Hulle moet hulle hand op die kop van die sonde-offer lê en dit slag op die plek waar die brandoffer geslag word.

30. Die priester sal dan sy vinger in die bloed steek en dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res van die bloed teen die onderkant van die altaar uitgooi.

31. Hy sal die vet van die bok verwyder, net soos wat met die maaltydoffer gemaak word. Dan sal hy die vet op die altaar verbrand en dit sal vir die Here aangenaam wees. So sal die priester vir hulle versoening doen en hulle sal vergewe word.

32. “As enigeen van die volk ’n skaap as ’n sonde-offer bring, moet dit ’n skaapooi sonder liggaamsgebrek wees.

33. Hy moet sy hand op die kop van die sonde-offer lê en dit slag op die plek waar die brandoffers geslag word.

34. Die priester sal dan sy vinger in die bloed steek en dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res van die bloed teen die onderkant van die altaar uitgooi.

35. Dan word al die vet van die skaap verwyder, net soos wat met die maaltydoffer gedoen word. Die priester verbrand die vet op die altaar bo-op die vuuroffers vir die Here. Op dié manier sal die priester versoening doen vir hulle en hulle sal vergewe word.”

Lees volledige hoofstuk Levitikus 4