Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 24:8-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. “Elke Sabbatdag moet hierdie brood in die teenwoordigheid van die Here vervang word ter wille van die Israeliete as ’n voortdurende verbond.

9. “Die brode wat vervang word, behoort aan Aäron en sy manlike nakomelinge. Hulle moet dit op ’n heilige plek eet, want dit verteenwoordig ’n besonder heilige gawe wat as vuuroffer vir die Here gegee word.”

10. Op ’n dag het ’n man met ’n Israelitiese ma en ’n Egiptiese pa in ’n geveg betrokke geraak met een van die Israelitiese mans.

11. Midde-in die geveg het die seun van ’n Israelitiese vrou die Naam van die Here lasterlik gebruik. Die man is toe na Moses toe gebring om uitspraak te gee. Sy ma se naam was Selomit. Sy was die dogter van Dibri uit die stam van Dan.

12. Hulle het die man in aanhouding geplaas totdat die wil van die Here in dié verband duidelik sou word.

13. Toe het die Here vir Moses gesê:

14. “Neem hierdie lasteraar uit die kamp uit. Sê vir almal wat hom hoor laster het om hulle hande op sy kop te lê. Laat die hele gemeenskap hom dan stenig.

15. “Sê dan vir die volk Israel: Hy wat die Naam van die Here lasterlik gebruik, sal die gevolge van sy skuld dra en sal gestraf word.

16. “Hy wat die Naam van die Here lasterlik gebruik, moet deur die hele gemeenskap van Israel gestenig word. Enige Israeliet of vreemdeling wat die Naam van die Here lasterlik gebruik, moet doodgemaak word.

17. “Enigeen wat die lewe van ’n ander persoon neem, moet doodgemaak word.

18. “Enigeen wat ’n ander persoon se dier doodmaak, moet die persoon ten volle vergoed. Hy moet die dier wat doodgemaak is, vervang met ’n lewende dier.

19. “Enigeen wat ’n ander persoon beseer, moet behandel word ooreenkomstig die besering wat hy veroorsaak het –

20. ’n beenbreuk vir ’n beenbreuk, ’n oog vir ’n beseerde oog, ’n tand vir ’n gebreekte tand. Presies wat iemand gedoen het toe hy ’n ander persoon seer gemaak het, moet nou met hom gemaak word.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 24