Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 24:12-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Hulle het die man in aanhouding geplaas totdat die wil van die Here in dié verband duidelik sou word.

13. Toe het die Here vir Moses gesê:

14. “Neem hierdie lasteraar uit die kamp uit. Sê vir almal wat hom hoor laster het om hulle hande op sy kop te lê. Laat die hele gemeenskap hom dan stenig.

15. “Sê dan vir die volk Israel: Hy wat die Naam van die Here lasterlik gebruik, sal die gevolge van sy skuld dra en sal gestraf word.

16. “Hy wat die Naam van die Here lasterlik gebruik, moet deur die hele gemeenskap van Israel gestenig word. Enige Israeliet of vreemdeling wat die Naam van die Here lasterlik gebruik, moet doodgemaak word.

17. “Enigeen wat die lewe van ’n ander persoon neem, moet doodgemaak word.

18. “Enigeen wat ’n ander persoon se dier doodmaak, moet die persoon ten volle vergoed. Hy moet die dier wat doodgemaak is, vervang met ’n lewende dier.

19. “Enigeen wat ’n ander persoon beseer, moet behandel word ooreenkomstig die besering wat hy veroorsaak het –

20. ’n beenbreuk vir ’n beenbreuk, ’n oog vir ’n beseerde oog, ’n tand vir ’n gebreekte tand. Presies wat iemand gedoen het toe hy ’n ander persoon seer gemaak het, moet nou met hom gemaak word.

21. “Wie ’n dier doodmaak, moet dit ten volle vergoed, maar wie ’n ander persoon se lewe neem, moet doodgemaak word.

22. “Hierdie bepalings is van toepassing op gebore Israeliete en op die vreemdelinge wat tussen julle woon. Ek, die Here, is julle God.”

23. Nadat Moses al hierdie instruksies vir die Israeliete gegee het, het hulle die godslasteraar uit die kamp gevat en hom gestenig, net soos die Here vir Moses beveel het.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 24