Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 21:8-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Julle moet hulle as heiliges behandel omdat hulle offers vir julle God bring. Ag die priesters as heilig, want Ek, die Here, is heilig en Ek maak julle heilig.

9. As ’n priester se dogter ’n prostituut word en so haar pa se heiligheid onrein maak, moet sy verbrand word.

10. “Die hoëpriester, oor wie se kop salfolie uitgegiet is en wat georden is om spesiale priesterklere te dra, mag nooit sy hare laat los hang of sy klere skeur om te rou nie.

11. Hy mag homself nooit verontreinig deur naby ’n lyk te kom nie, selfs al is dit sy pa of ma.

12. Hy mag nie die heiligdom van sy God ontheilig deur dit te verlaat om ’n begrafnis by te woon nie. Hy is immers deur die salfolie van sy God heilig gemaak. Ek is die Here.

13. “Die hoëpriester mag net met ’n maagd trou.

14. Hy mag nie met ’n weduwee, ’n geskeide vrou of met ’n vrou wat onrein is deur prostitusie trou nie. Sy moet ’n maagd uit sy eie stam wees

15. sodat hy nie sy afstammelinge oneer aandoen tussen die lede van die stam nie, want Ek, die Here, het hom heilig gemaak.”

16. Toe het die Here vir Moses gesê:

17. “Vertel vir Aäron dat wat toekomstige geslagte betref, afstammelinge wat ’n liggaamsgebrek het, nie kwalifiseer om aan hulle God te offer nie.

18. Niemand met ’n liggaamsgebrek mag My nader nie, of hy nou blind of lam of misvormd of gebreklik is,

19. en of hy ’n gebreekte voet of hand het,

20. of ’n boggelrug het of ’n dwerg is, of ’n oogdefek het of wat ’n etterende seer of skurfte aan sy vel het of wat beskadigde testikels het.

21. Selfs al is hy ’n afstammeling van Aäron, diskwalifiseer sy fisiese gestremdheid hom om offers vir die Here te bring. Omdat hy ’n tekortkoming het, mag hy nie offer vir God nie.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 21