Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 11:29-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. “Van die klein diertjies wat op die grond skarrel of kruip, is die volgende onrein vir julle: die mol, die muis, al die akkedissoorte,

30. die geitjie, die boomakkedis, die gewone akkedis, die sandakkedis en die verkleurmannetjie.

31. Al hierdie klein diertjies is vir julle onrein. As jy aan so ’n diertjie raak as hy dood is, is jy onrein tot die aand toe.

32. As so ’n dier vrek en op iets val, dan is dit ook onrein, ongeag waarvoor dit gebruik word. Dit geld vir enigiets wat van hout, lap, leer of growwe linne gemaak is. Dit moet in water gedompel word, en sal tot die aand toe onrein bly. Daarna is dit rein en mag dit weer gebruik word.

33. “As so ’n diertjie vrek en in ’n kleipot val, is alles in die pot onrein en moet die pot gebreek word.

34. As die water wat gebruik word om ’n onrein voorwerp skoon te maak, aan enige kos raak, is al daardie kos onrein. Enige vloeistof in so ’n onrein houer is ook onrein.

35. Enigiets waarop so ’n dooie diertjie val, is onrein. As dit ’n kleioond of kookpot is, moet dit stukkend gebreek word. Dit het vir julle onrein geword.

36. “As so ’n dooie diertjie egter in ’n fontein of opgaardam val, is die water nog steeds rein. Maar enige persoon wat die dooie diertjie wegvat, is onrein.

37. As so ’n dooie diertjie op saad val wat geplant gaan word, is die saad nog steeds rein.

38. As die saad egter nat is wanneer ’n dooie diertjie daarop val, is die saad onrein.

39. “As ’n dier wat julle mag eet, vanself vrek en iemand raak aan sy karkas, is so iemand tot die aand toe onrein.

40. As jy van sy vleis eet of die karkas wegdra, moet jy jou klere was. Dan sal jy onrein bly tot die aand toe.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 11