Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 11:22-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Dit sluit in alle soorte sprinkane en krieke. Van hulle mag julle eet.

23. Alle ander insekte met vlerke wat loop of kruip, is verbode vir julle.

24. “Sommige diere maak julle onrein. As julle aan hulle karkasse raak, is julle tot die aand toe onrein.

25. As jy die karkas van so ’n onrein dier moet verwyder, moet jy dadelik jou klere was en sal jy tot die aand toe onrein wees.

26. “Die onrein diere is dié met ’n gesplete hoef, maar wat nie volledig gesplete is nie of wat nie herkou nie. As jy aan die karkas van so ’n dier raak, is jy onrein tot die aand toe.

27. Alle viervoetige diere wat pote het, is onrein vir julle. As jy aan die karkas van so ’n dier raak, is jy onrein tot die aand toe.

28. As jy so ’n karkas moet optel om te verwyder, moet jy dadelik jou klere was en is jy onrein tot die aand toe.

29. “Van die klein diertjies wat op die grond skarrel of kruip, is die volgende onrein vir julle: die mol, die muis, al die akkedissoorte,

30. die geitjie, die boomakkedis, die gewone akkedis, die sandakkedis en die verkleurmannetjie.

31. Al hierdie klein diertjies is vir julle onrein. As jy aan so ’n diertjie raak as hy dood is, is jy onrein tot die aand toe.

32. As so ’n dier vrek en op iets val, dan is dit ook onrein, ongeag waarvoor dit gebruik word. Dit geld vir enigiets wat van hout, lap, leer of growwe linne gemaak is. Dit moet in water gedompel word, en sal tot die aand toe onrein bly. Daarna is dit rein en mag dit weer gebruik word.

33. “As so ’n diertjie vrek en in ’n kleipot val, is alles in die pot onrein en moet die pot gebreek word.

34. As die water wat gebruik word om ’n onrein voorwerp skoon te maak, aan enige kos raak, is al daardie kos onrein. Enige vloeistof in so ’n onrein houer is ook onrein.

35. Enigiets waarop so ’n dooie diertjie val, is onrein. As dit ’n kleioond of kookpot is, moet dit stukkend gebreek word. Dit het vir julle onrein geword.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 11