Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 3:7-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Die Here sê toe vir Josua: “Ek begin jou vandag belangrik maak vir die hele Israel. Hulle sal weet dat Ek net so by jou is soos Ek by Moses was.

8. Sê nou vir die priesters wat die ark van die verbond dra: ‘Sodra julle op die oewer van die Jordaan aankom, moet julle net daar bly staan.’”

9. Josua het toe vir die Israeliete gesê: “Staan nader hiernatoe dat julle kan hoor wat die Here julle God sê.”

10. Hy sê toe: “Vandag gaan julle weet dat die lewende God hier tussen julle is en dat Hy die Kanaäniete, Hetiete, Hewiete, Feresiete, Girgasiete, Amoriete en Jebusiete voor julle uit sal verdryf om vir julle plek te maak.

11. Die ark van die verbond van die Here van die hele wêreld sal voor julle uit deur die Jordaan gaan.

12. Kies nou twaalf mans, een uit elke stam van Israel.

13. Sodra die priester-draers van die ark van die Here, die Heer van die ganse wêreld, se voete in die water van die Jordaan kom, sal die water wat van bo af vloei, begin opdam.”

14. Toe die volk begin beweeg vanaf die plek waar hulle tente gestaan het om deur die Jordaan te trek, het die priesters wat die ark van die verbond dra voor hulle uit gegaan.

15. Die priesters wat die ark dra, het by die Jordaan aangekom. Dit was oestyd en die Jordaan het oor sy oewers geloop. Toe die priesters wat die ark dra hulle voete in die vlak water sit,

16. het die water wat van bo af vloei, begin opdam tot so ver op as Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Dooie See, was heeltemal afgesny. Die volk kon toe regoor Jerigo deur die rivier gaan.

17. Die priesters wat die ark van die verbond van die Here dra, het binne-in die Jordaan op droë grond gaan staan. Almal van Israel het deur die droë bedding gegaan totdat die hele nasie uiteindelik deur die Jordaan was.

Lees volledige hoofstuk Josua 3