Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 2:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Josua, die seun van Nun, het in die geheim twee verkenners van Sittim af uitgestuur. Hy het vir hulle gesê: “Gaan verken die land, veral Jerigo.” Hulle is daar weg en het by die huis van ’n prostituut uitgekom. Haar naam was Ragab. Hulle het daar tuisgegaan.

2. Iemand het vir die koning van Jerigo gaan vertel dat daar gedurende die nag Israelitiese mans aangekom het om die land te verken.

3. Hy het toe vir Ragab laat weet: “Laat die mans uitkom wat na jou huis toe gekom het. Hulle het op die land kom spioeneer.”

4. Ragab het die twee mans laat wegkruip. Sy het vir die koning laat weet: “Daar was mans hier by my. Ek weet nie van waar af hulle gekom het nie.

5. Toe die poorte teen skemer gesluit het, is die mans hier weg. Ek weet nie waarheen hulle gegaan het nie. As jy gou maak, kan jy hulle miskien nog inhaal.”

6. Sy het die mans op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlashalms wat sy daar oopgegooi het.

7. Die koning se soldate het toe na die mans gaan soek langs die pad wat na die driwwe by die Jordaan loop. Net na die agtervolgers weg is, is die stad se poorte gesluit.

8. Voor die mans gaan slaap het, het die vrou na hulle toe opgeklim op die dak.

9. Sy het vir hulle gesê: “Ek weet dat die Here vir julle die land gaan gee. Ons is lam van die skrik. Almal van ons wat in die land woon, is bang vir julle.

10. Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het toe julle uit Egipte getrek het. Ook wat julle met Sihon en Og, die twee konings van die Amoriete, aan die oorkant van die Jordaan gedoen het en hoe julle hulle uitgewis het.

11. Ons het dit alles gehoor. Ons harte het ineengekrimp. Niemand van ons het meer moed oor om teen julle te veg nie. Die Here julle God is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder.

12. Ek was goed vir julle. Sweer dan nou vir my voor die Here dat julle ook goed sal wees vir my familie. Gee vir my die versekering

Lees volledige hoofstuk Josua 2