Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 18:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe die hele land onder Israel se beheer was, het die Israelitiese volksvergadering by Silo bymekaargekom. Hulle het die tabernakel daar opgeslaan.

2. Daar was nog sewe van die Israelitiese stamme wat nie hulle eie grond gekry het nie.

3. Josua het vir die Israeliete gevra: “Hoe lank gaan julle nog uitstel voor julle die hele land wat die Here, die God van julle voorouers, aan julle gegee het, in besit neem?

4. Kies drie mans uit elke stam dat ek hulle kan uitstuur om deur die land te gaan. Hulle moet terugkom na my toe met ’n skriftelike beskrywing van die grond wat hulle wil hê.

5. Hulle moet die land in sewe dele verdeel. Juda het reeds sy gebied in die suide, en die nageslag van Josef hulle gebied in die noorde.

6. Hulle moet met die geskrewe verdeling na my toe kom. Ek sal hier in die teenwoordigheid van die Here ons God met die lot bepaal wie van julle watter deel sal kry.

7. Die Leviete kry nie ’n deel saam met julle nie. Hulle erfporsie is die priesterskap vir die Here. Gad, Ruben en die helfte van Manasse het reeds hulle deel oos van die Jordaan gekry toe Moses, die dienaar van die Here, dit vir hulle gegee het.”

8. Die mans het toe reggemaak om te vertrek. Josua het vir die mans wat die verdeling van die land moes neerskryf, beveel: “Gaan deur die land, skryf alles neer, en kom terug na my toe dat ek vir julle met die lot hier voor die Here in Silo kan bepaal watter deel elke stam kry.”

9. Die mans het vertrek en deur die land gegaan. Hulle het die dorpe volgens sewe streke in ’n boek opgeskryf. Hulle het toe teruggekom by Josua in die kamp by Silo.

Lees volledige hoofstuk Josua 18