Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 13:6-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Al die bewoners van die Libanonberg af tot by Misrefot-Majim, al die Sidoniërs, sal Ek tussen die Israeliete uit verdryf. Sorg dat hierdie gebiede as erfgrond na Israel toe kom, soos Ek jou beveel het.”

7. Verdeel nou hierdie grond tussen die nege stamme en die halwe Manassestam.

8. Ruben en Gad se stamme het reeds saam met die ander helfte van die Manassestam hulle grond gekry. Dit het gebeur toe Moses dit vir hulle gegee het terwyl hulle aan die oorkant, oos van die Jordaan, was. Moses, die dienaar van die Here, het die volgende gebiede vir hulle gegee:

9. Van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, die stad teen die rivier, die hele vlakte van Madeba tot by Dibon,

10. al die stede van die Amoritiese koning Sihon wat vanuit Gesbon regeer het, tot teen die Ammonitiese grens,

11. Gilead met die gebiede van Gesur en Maäka, die hele Hermonberg en die hele Basan tot by Salka

12. en die hele koninkryk van Og in Basan wat vanuit Astarot en Edreï regeer het. Og was een van die laaste Refaïete. Moses het hulle verslaan en uitgedryf.

13. Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäka uitgedryf nie. Hulle bly nou nog saam met die Israeliete.

14. Aan die stam van Levi het Moses nie hulle eie grond gegee nie. Hulle erfenis is die offers wat vir die Here, die God van Israel, gebring word. Dit is soos Hy hulle beloof het.

15. Moses het vir die stam van Ruben die volgende gebiede gegee:

16. Van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, van die stad teen die rivier, die hele vlakte tot by Madeba,

Lees volledige hoofstuk Josua 13