Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 10:23-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Hulle het so gemaak. Hulle het die vyf konings uit die grot na Josua toe gebring. Dit was die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon.

24. Nadat hulle die konings na Josua toe gebring het, het hy al die Israeliete bymekaargeroep. Hy sê toe vir die offisiere wat saam met hom gegaan het: “Kom hier, kom sit julle voete op die konings se nekke.” Hulle het dit toe gedoen.

25. Hy het voortgegaan: “Julle moenie bang wees nie. Moenie ontstel wees nie. Julle moet sterk en dapper wees. Dit is soos die Here gaan maak met al julle vyande teen wie julle moet oorlog maak.”

26. Josua het daarna die vyf konings doodgemaak. Hy het elkeen aan ’n boom laat ophang. Hulle het aan daardie vyf bome bly hang tot skemeraand toe.

27. Terwyl die son ondergaan, het Josua beveel om hulle liggame van die bome af te haal. Hulle het dit in die grot gaan gooi waar die konings weggekruip het. Hulle het weer klippe voor die bek van die grot gerol. Dit is vandag nog daar.

28. Daardie selfde dag nog het Josua ook Makkeda ingeneem. Hy het die koning en elkeen wat in die stad bly, heeltemal uitgewis. Daar het nie ’n mens daarin oorgebly nie. Hy het met Makkeda se koning net so gemaak soos met die koning van Jerigo.

29. Josua en almal by hom het van Makkeda af opgetrek teen Libna om daarteen oorlog te maak.

30. Die Here het ook hierdie stad met sy koning aan Israel gegee. Josua het al die mense wat in die stad gebly het, doodgemaak. Nie een het oorleef nie. Josua het met Libna se koning gedoen wat hy met die koning van Jerigo gedoen het.

31. Van Libna af is Josua en al die Israeliete na Lakis toe. Hy het dit beleër en daarteen geveg.

32. Die Here het ook Lakis in Israel se hand oorgegee. Hulle het op die tweede dag die stad ingeneem en al wat daarin bly, doodgemaak, net soos hulle met Libna gemaak het.

33. Horam, die koning van Geser, het Lakis gaan help. Josua het hom en sy manskappe egter verslaan. Nie een het vrygekom nie.

34. Van Lakis af is Josua saam met al die Israeliete na Eglon toe. Hy het die stad beleër om daarteen te veg.

Lees volledige hoofstuk Josua 10