Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 52:22-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Die koperkopstuk bo-op elkeen van hierdie pilare was twee en ’n half meter hoog. Die kopstuk was reg rondom versier met koperafbeeldings van granate. Die tweede pilaar het net so gelyk.

23. Aan die kante was daar 96 granate. As dié in die vlegwerk bo bygetel word, was dit altesaam 100 granate.

24. Nebusaradan het die hoëpriester Seraja, asook die priester tweede in rang, Sefanja, saam met hom geneem. Hy het ook drie van die deurwagte saamgeneem.

25. Van die mense wat nog in die stad was, het Nebusaradan ’n offisier van die leër en sewe van die koning se raadgewers gevange geneem. Hy het ook nog die sekretaris van die offisier wat verantwoordelik was om soldate vir die leër te werf, gevange geneem. Verder het hy 60 ander mense in die stad gevang en saamgevat.

26. Nebusaradan het al hierdie mense na die koning van Babel in Ribla gebring.

27. Die koning van Babel het hulle almal daar in Ribla in die Hamatgebied doodgemaak. So is die mense van Juda uit hulle land in ballingskap weggevoer.

28. In totaal was die hoeveelheid mense wat as gevangenes na Babel weggevoer is, die volgende: In die sewende regeringsjaar van koning Nebukadnesar, 3 023 Jode.

29. In Nebukadnesar se agtiende jaar as koning het hy nog 832 mense uit Jerusalem weggevoer.

30. In Nebukadnesar se 23ste jaar as koning het hy Nebusaradan, die hoof van sy lyfwag, na Juda gestuur. Hy het nog 745 Judeërs in ballingskap geneem. Altesaam is 4 600 mense gevange geneem.

31. In die 37ste jaar van koning Jojagin se ballingskap in Babel, het Ewil-Merodak koning in Babel geword. Hy was Jojagin goedgesind en het hom uit die tronk vrygelaat. Dit het gebeur op 31 Maart van daardie jaar.

32. Ewil-Merodak het baie vriendelik met koning Jojagin gepraat. Hy het Jojagin beter behandel as al die ander konings wat in Babel in ballingskap was.

33. Jojagin is ook toegelaat om nie langer sy tronkklere te dra nie. Hy is ook toegelaat om vir die res van sy lewe saam met die koning te eet.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 52