Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 46:19-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Pak julle goed vir ballingskap, inwoners van Egipte! Memfis sal vernietig lê,’n bouval sonder inwoners.

20. “Egipte is soos ’n mooi jong verskalf. Maar ’n steekvlieg is op pad uit die noorde.

21. Egipte se huursoldate is soos vetgemaakte kalwers.Hulle bied nie weerstand teen die vyand nie, hulle draai om en hardloop weg. Die dag van straf het aangebreek.

22. Egipte seil saggies weg soos ’n slang wegseil, want die vyand marsjeer met mag en mening. Hulle kom soos houtkappers met byle teen haar.”

23. Die Here sê: “Hulle sal haar bos afkap, al lyk dit ondeurdringbaar. Want hulle is meer as sprinkane, ontelbaar!

24. Hulle sal die mense van Egipte verneder en oorlewer in die mag van die mense uit die noorde.”

25. Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Ek sal Amon, die god van Tebes straf, asook vir die farao en Egipte en al die ander gode. Ek gaan ook haar konings straf, ja, vir die farao en almal wat op hom vertrou.

26. Ek sal hulle oorgee in die mag van dié wat hulle baie graag wil doodmaak, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel en sy offisiere. As dit verby is, sal mense weer soos vantevore in Egipte kom woon.” Die Here sê dit sal gebeur!

27. “Maar my dienskneg Jakob, moenie bang wees nie,moenie mismoedig wees nie, Israel. Al is julle ver weg, sal Ek julle red. Ek sal jou nageslag uit ballingskap terugbring.Israel sal terugkom en rus en vrede hê. Niemand sal hulle bangmaak nie.”

28. Die Here sê: “Moenie bang wees nie, my dienskneg Israel. Ek sal altyd by julle wees. Ek sal die nasies waarheen Ek julle verdryf het, heeltemal vernietig. Maar vir julle sal Ek nie vernietig nie!Ek sal julle egter nie ongestraf laat nie. Ek moet julle dissiplineer, maar op regverdige wyse.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 46