Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 44:14-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Sommige van die mense wat in Juda oorgebly het en in Egipte kom woon het, het gehoop om weer na Juda terug te keer en daar te leef. Niemand sal weer daar gaan woon nie, behalwe ’n paar wat sal ontsnap.”

15. ’n Groot groep van die Judeërs wat in Patros in Egipte gewoon het, was bymekaar. Die groep het bestaan uit mans wat geweet het dat hulle vroue wierook vir ander gode gebrand het, en die vroue wat daar rondgestaan het. Hulle almal het Jeremia geantwoord en gesê:

16. “Ons sal nie luister na die boodskap wat jy sê van die Here af kom nie!

17. Ons sal doen wat ons wil. Ons sal wierook brand vir die koningin van die hemel en drank uitgiet om haar te vereer. Ons het dit nog altyd gedoen en ook ons voorouers voor ons. Ons konings en ons leiers het dit ook gedoen. Ons almal het dit gedoen in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem. En toe het ons volop kos gehad, dit het eintlik sommer baie goed gegaan met ons! Ons het nie probleme gehad nie!

18. Maar vandat ons opgehou het om wierook vir die koningin van die hemel te brand en drank uit te gooi, het ons alles verloor. Ons het in oorloë en van honger doodgegaan.”

19. Die vroue het bygevoeg: “Dit is so, ons het wierook vir die koningin van die hemel gebrand en drank ter wille van haar uitgegooi as ’n offer. Ons het selfs koekies gebak wat haar vorm het. Maar dink jy ons het dit gedoen sonder die medewete en hulp van ons mans?”

20. Nadat hulle Jeremia geantwoord het, het hy aan al die mans en die vroue gesê:

21. “Dink julle die Here het nie geweet wat julle en julle voorouers in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem gedoen het nie? Natuurlik het Hy geweet dat julle en julle voorouers, julle konings en leiers en al die ander mense wierook vir die afgode gebrand het.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 44