Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 38:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Sefatja seun van Mattan, Gedalja seun van Pasgur, Jukal seun van Selemja en Pasgur seun van Malkija het gehoor wat Jeremia vir die mense gesê het:

2. “Die Here sê: ‘Mense wat in hierdie stad agterbly, sal as gevolg van die oorlog, hongersnood of siektes sterf. Maar as mense hulle aan die Babiloniërs oorgee, sal hulle met hulle lewe daarvan afkom.’

3. Ek, die Here sê verder: ‘Julle kan verseker weet dat hierdie stad in die mag van die koning van Babel sal val. Hy sal die stad inneem.’”

4. Die amptenare het vir die koning gesê: “Hierdie man moet doodgemaak word! Die dinge wat hy sê, breek die moed van die soldate wat nog in die stad oor is asook van die gewone mense. Hierdie man se bedoelings is nie goed nie. Hy is ’n verraaier.”

5. Koning Sedekia het toegegee en gesê: “Dit is reg so, hy is in julle hande. Ek sal niks doen om julle te keer nie.”

6. Hulle het Jeremia toe gevat en hom in die put van Malkija seun van die koning gegooi. Die put was in die gedeelte van die paleis waar die wagte gebly het. Hulle het toue gebruik om Jeremia te laat afsak. Daar was nie water onder in die put nie, net modder. Jeremia het in die modder weggesink.

7. ’n Baie belangrike amptenaar in die koning se paleis, Ebed-Melek die Etiopiër, het gehoor dat Jeremia in die put was. Die koning het toe in die Benjaminpoort gesit.

8. Ebed-Melek het van die paleis af na die koning gegaan en vir hom gesê:

9. “Meneer die koning, hierdie mans het ’n verkeerde ding gedoen deur vir Jeremia in die put te gooi. Hy sal gou van honger doodgaan, want omtrent al die brood in die stad is op.”

10. Die koning het vir Ebed-Melek beveel: “Vat 30 mense saam met jou en trek Jeremia uit die put op voordat hy doodgaan.”

11. Ebed-Melek het toe die manne saam met hom geneem na ’n pakkamer onder die stoorkamer van die paleis. Hulle het lappe en ou klere daar gevind, wat hulle na die put toe geneem het. Hulle het dit met ’n tou na Jeremia toe laat afsak.

12. Ebed-Melek die Etiopiër het na Jeremia geroep en gesê: “Sit die lappe en ou klere onder jou arms sodat die toue jou nie seermaak nie.” Jeremia het toe so gemaak.

13. Hulle het Jeremia met die toue opgetrek en hom uit die put gehaal. Daarna het Jeremia weer in die paleis se gevangenis gebly.

14. Op ’n dag het koning Sedekia die profeet Jeremia laat haal. Hulle het mekaar by die derde ingang van die tempel ontmoet. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek wil jou ’n vraag vra. En moenie iets vir my wegsteek nie.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 38