Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:39-44 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

39. Ek sal hulle harte op My rig, met een doel voor oë: om My vir altyd te dien. Dit sal vir hulle en hulle kinders die beste wees om te doen.

40. “Ek sal ’n ewige verbond met hulle sluit waarin Ek belowe om nie op te hou om goeie dinge vir hulle te doen nie. Verder sal Ek ’n begeerte by hulle wakker maak om My in eerbied te dien. Dan sal hulle nie weer van My af wegdwaal nie.

41. Dit sal vir My baie aangenaam wees om goeie dinge vir hulle te doen. Ek sal getrou wees en hulle in hierdie land vestig. Ek sal dit heelhartig doen.

42. Nes Ek veroorsaak het dat groot rampe hierdie volk van My tref, sal Ek sorg dat hulle weer voorspoedig sal wees soos Ek belowe het. Dit is wat die Here sê Hy gaan doen!

43. “Dit is soos julle sê: ‘Die land is nou verlate omdat dit in die mag van die Babiloniërs beland het. Dit is ’n land waar al die mense en diere verdwyn het.’ Maar hulle sal weer grond in hierdie land koop en verkoop.

44. Hulle sal die grond vir geld verkoop. Hulle sal koopkontrakte opstel, teken en voor getuies verseël. Dit sal in die grondgebied van Benjamin en ook hier in Jerusalem gebeur. Verder ook in die dorpe in Juda, in die heuwellande, in die dorpe teen die westelike hange en die dorpe van die Suidland. Ek sal sorg dat hulle omstandighede verander. Ek, die Here, sê dit!”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32