Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:24-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

24. “Die Babiloniërs veg nou teen die mense in Jerusalem. Hulle het walle gebou om oor die mure van die stad te kom en die stad in te neem. As gevolg van die gevegte, hongersnood en die siektes het die Babiloniërs mag oor die stad verkry. U sien nou dat alles gebeur net soos U gesê het dit sou.

25. En tog het U, die oppermagtige Here, vir my gesê om die stuk grond te koop. Ek moes selfs voor getuies ’n groot klomp geld daarvoor betaal. En dit gebeur alles terwyl die Babiloniërs op die punt staan om die stad in te neem!”

26. Die Here het toe weer ’n boodskap vir Jeremia gegee. Hy het gesê:

27. “Ek is die Here, die God van al die mense. Is daar iets te moeilik vir My om te doen?”

28. Daarom sê die Here: “Ek sal hierdie stad aan die Babiloniërs oorgee. Nebukadnesar, die koning van Babel, sal die stad inneem.

29. Die Babiloniërs wat nou die stad aanval, sal in die stad inkom en dit aan die brand steek. Die vyand sal ook die huise afbrand van mense wat bo-op die dakke wierook vir Baäl gebrand en drankoffers vir ander gode uitgegiet het. Dit het My baie kwaad gemaak.

30. “Van hulle jeug af het Israel en Juda niks anders as verkeerd gedoen nie. Hulle het My getart met dit wat hulle doen,” sê die Here.

31. “Vandat hierdie stad gebou is tot vandag toe, het die inwoners van die stad net my toorn opgewek. Daarom is Ek vasbeslote dat dit voor my oë moet verdwyn.

32. Die mense van Israel en Juda het My kwaad gemaak met al die slegte dinge wat hulle gedoen het. Almal van hulle, die konings, die amptenare, die priesters, die profete, die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem, maak My woedend.

33. My mense het hulle rug op My gedraai en My nie geëer nie. Dag na dag, jaarin en jaaruit het Ek hulle geleer om tussen reg en verkeerd te onderskei. Maar hulle wou nie luister en gehoorsaam word nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32