Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:15-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Want, sê die Here, die Almagtige, die God van Israel, eendag sal mense weer huise, grond en wingerde in hierdie land koop.’”

16. Nadat ek die koopkontrak vir Baruk seun van Nerija gegee het, het ek gebid en gesê:

17. “Ag, oppermagtige Here, U het die hemel en die aarde deur u groot krag en mag gemaak. Niks is vir U te moeilik om te doen nie!

18. Duisende mense het al u liefde en goedheid geniet. Maar U laat die kinders betaal vir die sondes wat hulle ouers gedoen het. U is die groot en magtige God, die Here, die Almagtige!

19. U het groot wysheid en doen groot dade. Daar is net mooi niks wat mense doen wat U nie raaksien nie. U vergoed mense volgens wat hulle gedoen het en die gevolge wat dit oplewer.

20. U het destyds in Egipte wonders en tekens gedoen. U doen dit vandag nog in Israel en onder alle mense. Selfs vandag nog is U steeds daarvoor bekend.

21. U het Israel uit Egipte gebring met tekens en wonders. Dit het gewys hoe groot u mag is en hoe sterk U is. Dit het groot vrees ingeboesem.

22. U het hierdie land wat U baie jare gelede aan hulle voorouers belowe het, aan die mense van Israel gegee. Dit is ’n vrugbare land waar melk en heuning vloei.

23. Ons voorouers het hierdie land binnegetrek en dit hulle blyplek gemaak. Maar hulle het geweier om aan U gehoorsaam te wees. Hulle wou nie volgens u voorskrifte lewe en doen wat U hulle beveel het om te doen nie! Dit is die rede hoekom U hierdie onheil oor hulle gebring het.

24. “Die Babiloniërs veg nou teen die mense in Jerusalem. Hulle het walle gebou om oor die mure van die stad te kom en die stad in te neem. As gevolg van die gevegte, hongersnood en die siektes het die Babiloniërs mag oor die stad verkry. U sien nou dat alles gebeur net soos U gesê het dit sou.

25. En tog het U, die oppermagtige Here, vir my gesê om die stuk grond te koop. Ek moes selfs voor getuies ’n groot klomp geld daarvoor betaal. En dit gebeur alles terwyl die Babiloniërs op die punt staan om die stad in te neem!”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32