Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 23:29-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. “Is my woorde nie soos ’n vuur wat brand nie? Is dit nie soos ’n hamer wat ’n stuk rots aan stukke laat spat nie?” vra die Here.

30. Daarom sê die Here: “Ek is teen hierdie profete wat my boodskappe by mekaar steel.

31. Ek is gekant teen hierdie gladdebek-profete wat sê: ‘Hierdie profesie kom van die Here self af!’

32. Ek is gekant teen hierdie profete wie se drome niks anders is as hulle verbeelding nie. Dit is ’n spul leuens wat my mense laat afdwaal. Ek het hulle nie gestuur of aan hulle ’n opdrag gegee nie. Wat hulle sê, hou geen voordeel vir my mense in nie,” sê die Here.

33. Die Here het vir my gesê: “As iemand van hierdie volk of een van die profete of van die priesters vir jou sou vra: ‘Wat is die boodskap waarmee die Here jou belas het?’ moet jy antwoord: ‘Julle is die las waarmee Hy my opsaal. Hy wil niks meer met julle te doen hê nie!’ sê die Here.

34. As enige profeet, priester of enigiemand anders sê: ‘Ek het ’n ernstige boodskap van die Here vir julle,’ sal Ek daardie persoon en sy hele gesin straf.

35. Hou liewer aan om vir mekaar te vra: ‘Wat het die Here geantwoord?’ of: ‘Wat het Hy gesê?’

36. Moenie langer sê: ‘’n Ernstige boodskap van die Here’ nie. Julle gebruik dit om gesag aan julle eie idees te gee. Wat julle eintlik doen, is om die boodskap van ons God, die Here, die Almagtige, te verdraai.

37. Vra vir die profete die volgende vraag: ‘Wat het die Here julle geantwoord?’ of: ‘Wat sê die Here?’

Lees volledige hoofstuk Jeremia 23