Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 21:6-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Ek gaan die inwoners van die stad met ’n epidemie tref. Mens en dier sal sterf.

7. Nadat dit alles gebeur het, sê die Here, sal koning Sedekia van Juda, sy amptenare en van die mense in die stad die oorlog, hongersnood en siektes oorleef. Maar Ek sal hulle uitlewer aan koning Nebukadnesar van Babel en aan hulle vyande wat hulle wil dood hê. Hy sal geen jammerte vir hulle voel nie, maar hulle met die swaard doodmaak. Hy sal geen genade vir hulle hê nie en niemand laat oorleef nie.’

8. “Sê vir die mense die Here sê: ‘Ek gee vir julle ’n keuse tussen lewe en dood.

9. Mense wat kies om in hierdie stad te bly, sal óf in gevegte óf van siekte óf van honger doodgaan. Maar wie uitgaan en hulle aan die Babiloniërs oorgee, sal bly lewe.

10. Ek het besluit om hierdie stad te vernietig. Ek gaan niks goeds vir hulle doen nie, sê die Here. Ek sal die stad aan die koning van Babel oorgee. Hy sal die stad verbrand.’”

11. “Sê vir die koninklike familie: ‘Luister na die boodskap van die Here vir julle!

12. Die Here sê vir die koningsnageslag van Dawid: Lewer elke dag regverdige uitsprake! As iemand besteel is, beskerm hulle en red hulle van hulle uitbuiters. As julle dit nie doen nie, sal my woede soos ’n vuur brand wat niemand kan blus nie. Dit sal gebeur oor al julle sondes wat julle doen.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 21