Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 21:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het vir Jeremia nog ’n boodskap gegee om oor te dra. Dit was toe koning Sedekia vir Pasgur, die seun van Malkija en Sefanja, die seun van Maäseja, ’n priester, na hom toe gestuur het met ’n versoek:

2. “Vra tog namens ons vir die Here wat gaan gebeur. Koning Nebukadnesar van Babel is besig om met sy soldate teen ons op te trek. Miskien sal die Here vir ons ’n wonderwerk doen soos Hy al tevore gedoen het en hom laat terugtrek.”

3. Jeremia het hulle geantwoord: “Gaan sê vir koning Sedekia

4. die Here, die God van Israel sê: ‘Op die oomblik is julle besig om buite die mure van die stad teen die koning van Babel en die Babiloniërs wat julle omsingel het, te veg. Ek gaan julle wapens onbruikbaar maak. Ek gaan julle vyand in die hartjie van die stad laat inkom.

5. Ek sal teen julle veg en julle sal my groot krag ervaar. Ek is verskriklik kwaad. Julle het My woedend gemaak!

6. Ek gaan die inwoners van die stad met ’n epidemie tref. Mens en dier sal sterf.

7. Nadat dit alles gebeur het, sê die Here, sal koning Sedekia van Juda, sy amptenare en van die mense in die stad die oorlog, hongersnood en siektes oorleef. Maar Ek sal hulle uitlewer aan koning Nebukadnesar van Babel en aan hulle vyande wat hulle wil dood hê. Hy sal geen jammerte vir hulle voel nie, maar hulle met die swaard doodmaak. Hy sal geen genade vir hulle hê nie en niemand laat oorleef nie.’

Lees volledige hoofstuk Jeremia 21