Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 44:9-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. As u die beker by enigeen van ons kry, moet daardie een doodgemaak word en ons sal u meester se slawe word.”

10. “Dis goed so,” antwoord die bestuurder, “behalwe dat net die een wat dit gesteel het my slaaf sal wees. Die onskuldiges mag maar vry gaan.”

11. Hulle het gou die sakke van die donkies afgelaai en dit oopgemaak.

12. Hy het by die oudste se sak begin soek en so voortgegaan tot by die jongste. En daar kry hy toe die beker in Benjamin se sak!

13. Toe hulle dit sien, skeur hulle hulle klere in radeloosheid. Hulle laai weer hulle donkies en draai terug na die stad toe.

14. Josef was nog tuis toe Juda en sy broers daar aankom en op die grond voor hom neerval.

15. “Wat het julle aangevang?” vra Josef. “Het julle nie geweet dat ’n persoon soos ek sou weet wie dit gesteel het nie?”

16. Juda sê toe: “Ai, Meneer, wat kan ons tog vir u sê? Hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Meneer, ons het almal teruggekom om u slawe te wees, ons én ons broer in wie se sak die beker gekry is.”

17. “Nee,” sê Josef. “Net die man wat die beker gesteel het, sal my slaaf wees. Die ander kan maar teruggaan na julle pa toe.”

18. Juda kom toe vorentoe en sê: “Meneer, laat ek asseblief iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie. Ek weet dat u dieselfde gesag het as Farao.

19. “Meneer, u het ons gevra of ons ’n pa of ’n broer het.

20. Ons het gesê: ‘Ja, ons het ’n pa, ’n ou man. In sy ouderdom is ook nog ’n kind, sy jongste seun, gebore. Sy broer is dood. Hy alleen is oor van sy ma se kinders en sy pa het hom baie lief.’

Lees volledige hoofstuk Genesis 44