Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 42:4-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Jakob het geweier dat Josef se jonger broer, Benjamin, saamgaan omdat hy bang was hy kom iets oor.

5. Jakob se seuns het saam met ander mense in Egipte aangekom om kos te koop omdat die hongersnood ook Kanaän getref het.

6. Josef was in beheer van die hele Egipte. Hy het ook die graanverkope behartig. Daarom het sy broers na hom toe gegaan. Hulle het diep voor hom gebuig.

7. Josef het hulle dadelik herken, maar hom as ’n vreemdeling voorgedoen. “Van waar is julle?” het hy kortaf gevra.“Van die land Kanaän,” antwoord hulle. “Ons het gekom om graan te koop.”

8. Josef het hulle wel herken, maar hulle het hom nie herken nie.

9. Dit het hom dadelik laat dink aan die drome van jare gelede. Hy sê vir hulle: “Julle is spioene! Julle het kom kyk waar ons land kwesbaar is.”

10. “Nee, Meneer, ons is u dienaars!” sê hulle. “Ons het maar net gekom om kos te koop.

11. Ons is almal broers en eerlike mense, Meneer! Ons is nie spioene nie!”

12. “Nee, julle is!” hou Josef vol. “Julle het gekom om te kyk waar die land ingeval kan word.”

13. “Meneer,” sê hulle, “ons was twaalf broers, seuns van een pa wat in die land Kanaän woon. Ons jongste broer is daar by ons pa, maar een van ons broers leef nie meer nie.”

14. Maar Josef hou steeds vol: “Nee, julle ís spioene!

Lees volledige hoofstuk Genesis 42