Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 30:22-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Uiteindelik het God aan Ragel gedink en haar gebede verhoor deur vir haar kinders te gee.

23. Sy het swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. “God het my skande weggeneem,” het sy gesê.

24. Sy het hom Josef genoem, “want,” het sy gesê, “mag die Here my nog ’n seun gee.”

25. Kort nadat Josef gebore is, sê Jakob vir Laban: “Stel my vry, want ek wil na my geboorteland toe teruggaan.

26. Laat my toe om met my vroue en kinders te vertrek. Pa weet dat ek ten volle vir hulle betaal het deur vir Pa te werk.”

27. “Moenie nou al gaan nie,” sê Laban. “Ek het agtergekom dat die Here my geseën het omdat jy by my is.

28. Hoeveel moet ek jou betaal vir jou dienste? Sê net, en ek sal dit betaal.”

29. Jakob antwoord: “Pa weet hoe hard ek vir Pa gewerk het en hoe Pa se troppe vee groter geword het.

30. Pa het maar min gehad toe ek hier gekom het, maar sedertdien het Pa se rykdom baie toegeneem. Die Here het Pa geseën in alles wat ek vir Pa onderneem het. Maar nou, wat van my? Wanneer kan ek vir my eie gesin voorsiening maak?”

31. “Watter vergoeding wil jy hê?” vra Laban weer.Jakob antwoord hom: “Moenie my iets betaal nie. As u my die volgende toelaat, sal ek nog steeds Pa se vee oppas.

32. Gee my vandag al die skape en bokke wat bont of gevlek is saam met die swart gekleurde skape.

33. Dít sal my beloning wees. Dit sal vir Pa maklik wees om te sien of ek eerlik is of nie. As Pa onder my vee enige skape of bokke kry wat nie bont is nie, sal Pa weet dat ek hulle van Pa gesteel het.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 30