Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 29:2-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Op ’n afstand sien hy toe onverwags ’n put in die veld en tot sy verbasing sien hy ook drie troppe kleinvee wat daar lê en wag om te drink! ’n Swaar klip was oor die opening van die put.

3. Dit was die gebruik om te wag totdat al die troppe by die put is voordat hulle die klip wegrol. Nadat die vee gedrink het, rol hulle die klip weer terug oor die put.

4. Jakob gaan praat toe met die skaapwagters en vra: “Waar woon julle, vriende?”“In Haran,” sê hulle.

5. “Ken julle iemand met die naam Laban, die kleinseun van Nahor?”“O ja, ons ken hom!” antwoord hulle.

6. “Hoe gaan dit met hom?” vra Jakob.“Dit gaan goed met hom,” antwoord hulle hom. “Kyk, hier kom sy dogter Ragel juis nou aan met die vee.”

7. “Die son sit nog hoog. Dis nog nie tyd om hulle in die kraal te jaag nie. Gee vir die vee water sodat hulle kan teruggaan om te wei,” sê Jakob.

8. “Ons laat hulle nie drink voordat al die troppe en hulle skaapwagters hier is nie,” antwoord hulle. “Dan eers haal ons die klip van die put af.”

9. Terwyl hulle besig was om te praat, kom Ragel daar aan met haar pa se kleinvee wat sy opgepas het.

10. Toe Jakob sy niggie Ragel met haar pa se kleinvee sien, het hy na die put toe gegaan, die klip weggerol om sy oom se vee laat drink.

11. Daarna soen Jakob vir Ragel, terwyl die trane oor sy wange loop.

12. Hy verduidelik toe vir Ragel dat hy haar neef is, die seun van haar tante Rebekka. Ragel hardloop toe vinnig en gaan vertel dit vir haar pa Laban.

13. Toe Laban van Jakob hoor, het hy haastig uitgekom om hom te ontmoet. Hy het hom omhels en gesoen. Laban het hom saamgevat huis toe waar Jakob sy verhaal aan hom vertel het.

14. “Dink net,” roep Laban uit. “Jy is my eie bloedfamilie!”Na hy ongeveer ’n maand lank by hom gebly het,

15. sê Laban vir hom: “Jy hoef darem nie verniet vir my te werk net omdat ons familie is nie. Wat wil jy as betaling hê?”

16. Laban het twee dogters gehad. Lea was die oudste en Ragel die jongste.

17. Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was baie aantreklik en het ’n pragtige figuur gehad.

18. Jakob was verlief op Ragel. Daarom sê hy: “Ek sal sewe jaar werk om Ragel, die jongste dogter, as vrou te kry.”

19. “Afgespreek!” sê Laban. “Ek sal haar eerder vir jou gee as vir iemand buite die familiekring. Bly by ons.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 29