Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 24:49-66 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

49. Nou wil ek graag weet: Sal julle lojaal en getrou wees aan my meester, of nie? Sê vir my ja of nee sodat ek kan weet wat my te doen staan.”

50. Laban en Betuel het geantwoord: “Dit kom van die Here af. Wat kan ons dan sê?

51. Hier is Rebekka. Neem haar en gaan. Ja, laat sy die vrou word van jou meester se seun soos die Here bepaal het.”

52. Toe hy dit hoor, het Abraham se slaaf laag afgebuig en die Here aanbid.

53. Toe haal hy silwer en goue voorwerpe uit, asook klere, en gee dit vir Rebekka. Vir haar broer en haar ma het hy duur geskenke gegee.

54. Toe eers het die slaaf en die mense saam met hom aandete geëet en daar oorgebly. Vroeg die volgende oggend sê hy: “Stuur my terug na my meester toe.”

55. “Maar ons wil hê Rebekka moet nog tien dae hier by ons bly, dan kan sy gaan,” sê haar broer en ma.

56. Maar hy sê: “Moet my nie ophou nie. Die Here het my reis suksesvol gemaak. Laat my toe om na my meester terug te gaan.”

57. “Kom ons vra liewer wat Rebekka self dink,” sê hulle.

58. Hulle roep haar toe en vra: “Is jy gewillig om saam met hierdie man te gaan?”“Ja, ek wil gaan,” antwoord sy.

59. Hulle het Rebekka gegroet en haar saam met Abraham se slaaf en sy reisgenote laat gaan. Die vrou wat haar van kleins af opgepas het, het ook saam met haar gegaan.

60. Hulle het haar geseën met die volgende seën:“Ons suster, mag jou nageslag tienduisende word;mag jou afstammelingedie stede van hulle vyande oorwin.”

61. Toe het Rebekka en haar slavinne op die kamele geklim en saam met Abraham se slaaf vertrek.

62. Intussen het Isak teruggekeer huis toe van Lagai-Roï-fontein. Sy huis was in die Negev.

63. Teen laatnamiddag het Isak in die veld gaan stap. Hy kyk op en sien ’n klomp kamele aankom.

64. Rebekka kyk ook op, sien hom en klim van die kameel af.

65. “Wie is daardie man wat deur die veld na ons toe aankom?” vra sy vir die slaaf.Toe hy sê: “Dit is my meester,” bedek sy haar gesig met haar sluier.

66. Die slaaf het Isak alles vertel wat met hom gebeur het.

Lees volledige hoofstuk Genesis 24