Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 8:19-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Hulle het ook vir Gasabja gestuur en saam met hom Jesaja uit die familie van Merari en twintig van sy seuns en broers

20. en 220 tempelwerkers. Die tempelwerkers was ’n groep werkers wat destyds deur koning Dawid en sy amptenare aangestel is om die Leviete te help. Hulle name is almal op die lys geplaas.

21. Ek het daar by die Ahawakanaal vir almal opdrag gegee om te vas sodat hulle nederig kon wees voor ons God. Ons het gebid dat ons reis veilig sou wees en dat Hy ons en ons kinders en ons besittings sou beskerm.

22. Ek was skaam om die koning te vra om soldate en ruiters saam met ons te stuur om ons teen vyande op ons pad te beskerm, want ons het vir die koning gesê: “Ons God beskerm almal wat Hom aanbid, maar sy toorn woed voort teen hulle wat Hom in die steek laat.”

23. Dit is hoekom ons gevas en ernstig gebid het dat God na ons moes omsien. Hy het ons gebed verhoor.

24. Ek het twaalf leiers uit die priesters gekies, naamlik Serebja, Gasabja en nog tien ander priesters

25. om in beheer te wees van die vervoer van die silwer, goud, die goue bakke en ander voorwerpe. Die koning, sy raadgewers, sy leiers en al die mense van Israel het dit vir die tempel van ons God gegee.

26. Ek het dit alles geweeg en vir hulle gegee. Dit was: 24 ton silwer, voorwerpe van silwer wat 68 kilogram geweeg het, en goue voorwerpe van drie en ’n half ton.

Lees volledige hoofstuk Esra 8