Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 3:7-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Eers het hulle klipkappers en skrynwerkers gehuur. Hulle het ook vir die mense van Sidon en Tirus kos, wyn en olyfolie gegee om vir hulle sederhout te bring. Hulle het die houtstompe afgebring uit die Libanonberge en na Joppe toe gebring. Dit is met toestemming van koning Kores van Persië gedoen.

8. Die bouwerk aan die tempel van God het in die tweede maand van die tweede jaar begin nadat hulle in Jerusalem teruggekom het. Serubbabel seun van Sealtiël, en Jesua seun van Josadak en sy medepriesters, die Leviete en almal wat uit ballingskap na Jerusalem toe teruggekom het, het saamgebou. Die Leviete van twintig jaar en ouer is aangestel om oor die bouwerk toesig te hou.

9. Jesua, sy seuns en sy familie, Kadmiël en sy seuns, en al die afstammelinge van Hodaja het toesig gehou oor die herbouing van God se tempel. Die Leviete uit die nageslag van Genadad het hulle ook gehelp om toesig te hou.

10. Die dag toe die bouers die fondasie van die Here se tempel gelê het, het die priesters, geklee in hulle seremoniële drag, hulle plekke ingeneem en op hulle trompette geblaas. Die Leviete en die Asafgroep het lof aan die Here gebring deur simbale te slaan soos koning Dawid van Israel voorgeskryf het.

11. Hulle het die Here geloof en gedank deur te sing: “Hy is goed! Sy troue liefde vir Israel sal nooit ophou nie!” Al die mense het daarna hard uitgeroep terwyl hulle die Here geloof het omdat die fondasie van die Here se tempel gelê is.

12. Baie van die ouer priesters, Leviete en van die ander leiers het onthou hoe die eerste tempel gelyk het. Toe hulle die fondasie van die nuwe tempel sien, het hulle hardop begin huil. Van die ander het op hulle beurt weer geskreeu van blydskap.

13. Die geskreeu en gehuil kon nie onderskei word nie, maar het saam ’n oorverdowende lawaai veroorsaak. Dit kon baie ver gehoor word.

Lees volledige hoofstuk Esra 3